JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief


2013-10-21
Lafenis vir ons dorstige grond


Genade reën

Vandag kan ek nie anders as om vol vreugde en blydskap te wees nie!  Reën, nog reën en nog reën het baie saggies geval die laaste paar dae - 50mm het ons dorstige grond en plante gelaaf.  Die wonderlikste ding vir my is dat die swart gebrande bome wat agter gebly het as stille getuienis van die tragiese gebeure van 19 September 2011, nou na twee jaar, minder sigbaar is en lewe in die veld word nou oorheersend.  Ek ervaar dat dit nouook by binnekant se gesond-word 'n hupstoot gaan gee.

Saam met die vars mintgroen van die Burkea africana bome, vorm die pers oortrekte Jakarandas in die lug, maar ook op die grond, 'n see van pers waarvan ek nie genoeg kan kry nie.  Ons kyk so maklik vas teen al die negatiewe, hartseer, eensaamheid en onveiligheid wat ons ervaar maar sien nie pragtige gratis fynskrif oral om ons raak nie. Om die mooi te ervaar, kos net 'n bietjie stil staan en waardeer wat aan ons gegee word.  Dit is ook hierin wat God Homself aan ons openbaar om Sy almag, liefde en getrouheid aan ons te bevestig.  Donker tye is nodig om ons tot orde te roep of sommer net om ons sterker te maak vir die werk wat nog vir ons uit gemeet is... Die pers jas van die Jakarandas en die sagte mintgroen van die Burkea africana bome is van korte duur en kom eers weer volgende jaar hierdie tyd indien ons gelukkig is - ssos die seisoene van ons lewe.

Ek is dankbaar vir alles wat op my pad kom omdat dit alles ten goede mee werk en saam met die mooi wat ek ook vandag beleef, sê ek net baie, baie dankie!  God se genade is groot!

Groete,

Tryntje

 


Terug Terug na bo