JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief


2013-11-16
Water, Son en Sorg


Ek wil net laat weet dat ons boompies baie mooi groei en hopelik volgende jaar in ander boere se boorde sal staan waar hulle daar ook vir baie jare vorentoe die eienaars en erfgename sal bly maak deur hope kwaliteit neute te lewer.  Op die stadium verg dit baie moeite om die baba boompies te laat ontpop in mooi sterk tieners.  Terloops, julle moet onthou om gereeld te kyk dat julle tieners se wortel gedeeltes nie bo die grond uitsteek wanneer die grond begin sak nie -  dit is 'n gewisse resep vir verlies wanneer die boompies daaraan blootgestel word.

Elke keer wanneer ek na en van Cullinan op pad na die kwekery is ek 'n gevaar op die pad - ek sukkel om my oë op die pad te hou!  Alles is so groen na die reën en ('n bietjie hael). Die veld met aangeplante weiding is nog kort en grasgroen met baie beeste wat daarop wei.  Een van die besighede wat die omgewing so omskep is 'n jong man wat nie speel wanneer hy iets aanpak nie. Dit is baie goed om te sien dat jy leeuemoed het en baie uitdagings te bowe kom om sy doel te bereik.  Vir my is dit baie snaaks dat ons Suid Afrikaners nie die son oor 'n ander se kop wil sien skyn nie. Sodra iemand 'n sukses maak van sy drome, moet hy aarde toe gebring word en baie tyd en energie word op daardie manier gemors.  Sou dit nie beter wees om mekaar te ondersteun en saam met hom trots te wees op sy suskses in hierdie moeilike tyd wat ons beleef nie?  Die energie van suksevolle mense, is net te lekker om te ervaar.  Om te deel in daardie energie, om sodoende nuwe moed en krag te kry vir dit waarmee ek daagliks besig is, beteken vir my baie....

Een van die nadele van ons omgewing is dat ons boorgate net 'n beperkte leeftyd het van so 12-13 jaar.  Die yster in die wat pak aan en maak mettertyd al die openinge waardeur die water kom, toe. Daar is nie 'n manier om dit oop te kry nie. So het ons vir baie lank gewik en geweeg omdat ons boorgate die stadium bereik het waar die een net modder bevat en die ander redelik afgeneem het. Ons het dit 'n gebedsaak gemaak en gistermiddag het die boorwerk begin.  Op 38 meter het ons die eerste water gekry en toe op 60 meter weer.  Nou kan ons met vertroue aangaan om ons plante en bome lekker nat te maak want ons gebede is verhoor met lekker skoon water wat tot ons beskikking gestel is.

Groete,

Tryntje

 


Terug Terug na bo