JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief


2013-12-23
Die Seun van God


Hierdie  foto laat my dink aan die groot geskenk wat ons tydens die geboorte van Jesus gekry het. Hierdie hondjie, Raffie, het niks wat van hom 'n gewilde keuse sal maak wanneer iemand opsoek is na 'n troeteldier nie.  Indien hy by die DBV geland het, sou hy lankal uitgesit wees.  Hy is 'n opregte "one mana, plenty papa" met die onderkaak heeltemal te lank sodat hy heeltyd glimlag (so dink ons mense) en terselfdertyd maak hy vreemde honde bang (ontblote tande spel aggressie in hondetaal).  Tog is hierdie optelkind 'n lid van my gesin en kry al die liefde en versorging waartoe ek instaat is.  Ek was nog nooit een dag spyt dat ons stilgehou het langs die pad, waar hy bewusteloos gelê het, en hom huistoe gebring het nie.  Hy beloon my met vrolikheid, lojaliteit, liefde en maak die alleenheid draagliker.

Is dit nie maar wat met ons gebeur het met die geboorte van Jesus nie?  Ons gebreke is so baie en ons verdien nog baie minder as Raffie,  tog is ons nou koningskinders a.g.v. die groot gebeurtenis meer as 2000 jaar gelede!  Ons kyk dikwels vas teen die kindjie in die krip en sien nie raak dat dit Die Seun van God is wat aarde toe gekom het in die gestalte van 'n mens, om ons skuld op Hom te neem nie.  Ons dankbaarheid vergelyk ook nie altyd met Raffie se dankbaarheid nie.  Hy is bereid om my met sy lewe te beskerm, maar kan ek dieselfde sê van my dankbaarheid teenoor my Verlosser?

My wens is dat almal die liefde en genade wat voortspruit uit die geboorte van Die Seun van God, in oorvloed sal ervaar gedurende die feestyd maar ook gedurende elke dag van 2014.  Ook dat ons ons medemens sal liefhê soos onsself en dat dit alles sigbaar sal wees in ons daaglikse lewe.  Laat dit ons grootste geskenk vir mekaar wees sodat ons elkeen, wat ons pad kruis, deur ons voorbeeld, sal lei na ons Verlosser, Jesus Christus, ons Here.

Groete,

Tryntje


Terug Terug na bo